Volstruis Produksie Uitdagings en Vooruitsigte: ‘n Gedetailleerde Analise

Posted by Camelus Grondstowwe on

CAMELUS ARTIKEL 03 - 09

 

April 22, 2009

Beste Volstruis Produsent

HUIDIGE PRODUKSIE KOSTES: VOLSTRUIS KUIKEN EN SLAGVOËL PRODUKSIE 2009

Daar bestaan tans onsekerheid oor die werklike toekoms van volstruis-produksie vir 2009/2010 in die lig van reeds verlaagde pryse van slagvoëls weens verminderde vel-aanvraag en wêreld ekonomie.    Verder kompliseer spekulasies die situasie deurdat die indruk geskep word dat slegs ouer volstruise, slagvoëls kan lewer met aanvaarbare gehaltes wat produksie kostes betekenisvol opjaag.

Dit is ‘n gegewe dat prosesseerders onlangs ‘n toename in velle met kleiner knoppies ervaar het wat die bemarkbaarheid daarvan beperk en dat sekere maatreëls genoodsaak was om die voorkoms te verminder.  Daar is gevolglik boete en bonus stelsels ingefasseer tesame met ‘n skrywe waar die verwagting geskep word dat die slag van ouer volstruise beter velle tot gevolg gaan hê en dat die produsent meer uit die volstruise behoort te verdien.

Ongelukkig maak die ouer slagaanname nie voorsienning vir die waarskynlikheid van swakker velgraderings soos ouderdom toeneem nie en onlangse navorsing bevestig maandelikse verswakkings van 8 % met slagtings na 8 maande ouderdom.  Die impak van swakker gradering kan aansienlike geld waardes bedrae soos R150 tot selfs R450 per 130 dm² van 1 ste na 4 de graad nagelang van die mate waartoe die vel tussen grade beweeg.

Teen die huidige kostes van grondstowwe, ongeag of volstruis optimaal of swak gevoer word, maak dit weinig verskil sodat slagting van 10 maande na 14 maande, ‘n gemiddelde bykomende koste van R920 in voer sal bedrae.  Ondanks effe groter karkasse en moontlikheid van bykomende veerinkomstes, regverdig die opbrengs geensins die minder geld weens swakker graderings, verhoogde voerinsetkostes, rentes, arbeid, kontantvloei en risiko nie.

Die onbemarkbaarheid van onderontwikkelde knoppies skep ‘n probleem.  Faktore soos voeding en genetika speel verseker hier ‘n oorheersende rol in die opsig daar dit net eenvoudig nie winsgewend kan wees teen huidige prysstrukture om volstruise vir onbepaalde periodes langer te voer nie.   Alhoewel die indruk geskep word dat baie groter knoppies vereis word, kry Camelus egter die gevoel dat dit meer gaan om heeltemal te klein knoppie velle te voorkom. Kontroleer hier

‘n Gemiddelde knoppie grootte is nog steeds aanvaarbaar (QV3) en bonus betalings sal waarskynlik op enkele velle van toepassing wees wat vir ‘n beperkte marksegment is.  In beginsel beteken dit waarskynlik dat met goeie voeding, 12 en 14 maande slagtings nie ‘n vereiste en oplossing bied nie,  aangesien die probleem met die klein knoppie velle grootliks veroorsaak is deur individue wat kuikens van 6 en 7 maande ouderdom gaan slag het wat verseker mos nog nie optimaal ontwikkel kon wees nie.

Met slagtings op 9 en 10 maande met optimale voeding,  sal daar verseker nog steeds ‘n persentasie gedeelte met klein knoppies wees weens genetiese verskille,  maar dieselfde beginsel gaan ook geld met 12 en 14 maande slagting met verdere bykomende kostes en swakker graderings invloede.   Elke produsent sal gevolglik moet besluit of dit vir sy besigheid ekonomies gaan wees om 80-90 % voëls vir onbepaalde periodes langer te voer en die ouderdoms effek te induseer in ‘n poging om waarskynlik die gedeelte klein knoppies effens minder te kry.  Dit is ‘n wetenskaplike feit dat daar altyd ‘n gedeelte klein knoppies gaan wees weens genetiese variasie en die normaal verspreiding van die eienskap.  Die realiteit sal binnekort gemeet kan word as graderings en inkomstes op die nuwe knoppie graderingsstelsel bekend gemaak word en dan vergelyk kan word met ouderdom van slagtings, voedingsstelsel en bronne van kuikens.   Camelus beoog om vorentoe in meer besonderhede met die aspek te deel.

Tydelike onsekerheid oor die bedryf is nogtans hiermee geskep wat nou deur enkele produsente uitgebuit word.  Paniekerige kuikengrootmakers en selfs slagvoëlprodusente verkoop nou voëls teen aansienlik laer pryse as waarvoor begroot was en dikwels selfs onder produksie kostes.   Uit al die navrae wat Camelus ontvang het, is dit duidelik dat verskeie boere onseker is wat reeds op kuikens spandeer is en wat dit werklik gaan kos om self die volstruise tot slag te voer en wanneer optimale netto dividende verdien kan word.

‘n Onlangse inligtings-vergadering in die Klein Karoo laat Camelus met ‘n versigtige opgewonde positiwiteit  oor die toekoms van die volstruisbedryf.  Verseker is dit onmoontlik vir ‘n prosesseerder om onrealistiese verwagtinge te skep, maar is die vooruitgeprojekteerde inkomste vir die gemiddelde slagvoël vir 2009 beraam op R2690 teenoor R2530 in 2008.   Die winsgewendheid van volstruisproduksie word grootliks deur wisselkoers wisselwerking beïnvloed waarvan Suid Afrika tans geweldige uitdagings ervaar.

Die stelling word gemaak dat die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf tot ‘n mate effens minder nadelig beïnvloed is deur die wêreld resessie as meeste ander eksotiese leerbedrywe en internasionale volstruisprodusente.   Opnuut hou dit nuwe moontlikhede vir Suid Afrikaanse volstruisprodukte in en behoort alle volstruisprodusente opnuut te poog om die tydelike onsekerheid te buffer met optimale voeding en bestuur en gevolglik moed te hou.  ‘n Mate van uitbreiding in die toekoms is dus nie onrealisties nie en het elke volstruis produsent verseker ‘n vername rol te speel.

In reaksie op verskeie versoeke poog Camelus met dié skrywe om die volstruisprodusent te adviseer oor tipiese gemiddelde produksiekostes op verskillende groeistadia sodat sinvolle besluite gemaak kan word oor watter marksegment die produsent hom in wil positioneer.

Produksies kostes op 4 maande (43kg) vir die kuikengrootmaker word gegee en vir die slagter word kostes op 10 maande (90kg), 12 maande (95kg) en 14 maande (100kg) in onderstaande tabel saamgevat.    Die produksie koste begroting is basseer op verskeie teoretiese aannames wat tussen produsente kan verskil.  Faktore soos grondstofkostes, voedingsstelsels, bestuur, omgewingstoestande, gesondheidsstatus en ander kan syfers betekenisvol beïnvloed. Elke produsent word dus daarop gewys om onderstaande inligting as riglyn vir sy eie individuele berekeninge te gebruik. Ander aspekte soos mortaliteite en bedryskostes kan betekenisvol tussen plase verskil en word die maandelikse aanname van R 35 per kuiken en slagvoël deurgaans gebruik wat tans in meer gedetailleerde ontledings uitgekom het as ‘n gemiddelde totaal vir ander kostes bo voerkostes.  Dit sluit in rentes, arbeid, infrastruktuur wat oor 5 jaar afgeskryf word en veeartseny kostes en middels.


Produksie kostes 0 – 4 maande (43 kg)

Met die kostes is Nova se volvoerkostes in die Karoo streek as verwysing gebruik en bedra die gelykbreek kostes vir ‘n kontrak grootmaker om kuikens groot te maak met 20 % vrektes, tans R13.15 per kg.  So, as die produsent dan R16 per kg aangebied is vir kontrak grootmaak sal die wins op 43 kg kuiken dan R 2.85/kg wees en R122 per voël oor die vier maande periode.

Vir die Kuikengrootmaker wat sy eie kuikens aangekoop het teen R350 per dagoud, sal die gelykbreekkoste vir dieselfde situasie R21.39 per kg bedrae tot op 43 kg.  Die impak van die dagoud aankoop koste en vrektes op die aanvanklike inset,  is enorm en grootliks die oorsaak waarom die kostes so hoog is.  Indien dagoud kuikens R 250 gekos het sou die gelykbreek R18.50 per kg gewees het en R17.10 per kg met aanvanklike dagoud koste van R 200 per kuiken.


Produksie kostes op 10, 12 en 14 maande

Aangesien die meeste slagterprodusente van tuismeng gebruik maak, word dit as uitgangspunt gebruik met Camelus se tuismeng konsentraat soos toepaslik op die Oos Kaap wat die duurste scenario aandui.  Huidige markverwante roumateriaal kostes is gebruik nl. Lusern (R1800/ton). Soja OKM (R5500/ton), Mielies (R2000/ton), Melassestroop (R2500/ton).

Met ‘n aankoop koste van R350 op dagoud en 30 % vrektes, sal die gelykbreek produksie koste op 10 maande ouderdom (90 kg), R22.42 per kg (R2017/voël) bedrae.  Indien voëls tot 12 maande gevoer word en 95 kg weeg, sal die syfer toeneem tot R26.12/kg  (R2484/voël)  en slagting op 14 maande (100 kg) sal die produsent benaderd uitwerk op 29.36/kg (R2937/voël).

Met dagoud kuikenpryse van R200 sal die kostes onderskeidelik afkom na R20.26/kg (R1823/voël), R24.07/kg (R2287/voël) en R27.41/kg (R2741/voël) op 10, 12 en 14 maande slagtings onderskeidelik.  Dit beklemtoon net weer dat die aanvanklik aankoopkoste van die dagoud kuiken een enorme rol speel in die winsgewendheid van slagvoëlproduksie.

Met die geprojekteerde volstruisprys van R2690 per slagvoël as gemiddelde in 2009, behoort die produsent verseker moed te hou en streef om by die uitbetaling te hou en selfs te verbeter.

Alhoewel die bedryf tans met verskeie onsekerhede worstel en in ‘n moeiliker fase inbeweeg het, is Camelus oortuig daarvan dat volstruis boerdery verseker nog steeds as ‘n winsgewende eenheid bedryf kan word wat nie noodwendig die tradisionele pad van volstruis-produksie volg nie.

Groetnis

Fanus Cilliers

(PhD Agric., Pr. Nat. Sci.)

← Older Post