Rusperiode en Impak op die 2009 Se Teelseisoen: 'n Ondersoek

Posted by Tiaan Pepper on

RUSPERIODE EN DIE ROL OP DIE 2009 SE TEELSEISOEN

Daar bestaan tans onsekerheid oor wat die werklike potensiële behoeftes aan kuikens gaan wees in die komende 2009/2010 teelseisoen in die lig van onsekerhede oor eindrealisasies met slagtings met gevolglike swakker vooruitsigte ten opsigte van kuikengrootmaak kontrakte.   Dit is grootliks veroorsaak deur verlaagde aanvraag na velle weens die resessie in wêreld ekonomie .  

Of velle wat tans so laag as 35 % tot 40 % van die eindrealissasie van slagvoëls uitmaak die bepalende faktor in volstruisproduksie gaan bly, is te betwyfel en net tyd sal leer.  Die meer realistiese uitweg sal waarskynlik wees dat die produsent moet fokus op die 60 % inkomste bo velkoste (maw vleis) en dit voorkeur sal moet gee ten einde lewensvatbare produksie te bly handhaaf.

Ongeag die uitgangspunt, is dit ‘n feit dat  dagoud kuikenpryse onder druk gaan wees sodat  teelvoël eienaars op geen manier weer die onrealisties pryse van R 350 – R 400 kuiken pryse van die 2008 seisoen gaan haal nie.   Verder sal die kwaliteit van dagoud kuikens ook verseker aandag moet kry aangesien lewensvatbaarheid van kuikens in afgelope seisoen baie onder druk was.  Dagoud groottes was dikwels onder 750 g wat eerste graad kuiken se vereistes is en gevolglik het kuikengrootmakers onder die omstandighede reeds met kuikens met ‘n agterstand begin.  Dit was duidelik in die lig van geweldige hoeveelhede antibiotika wat gebruik moet word reeds vanaf dagoud net om kuikens  te laat oorleef.  Swakker groeitempos is ook voortdurend gerapporteer.

 In die lig van die kopsere van verlede seisoen met nou verlaagde slagvoël pryse en afwaartse druk op kuikengrootmaak kontrakte, sal teelvoëls eienaars ‘n groot uitdaging ervaar om ‘n afset vir hulle kuikens te vind tensy kuikens teen aansienlik laer pryse beskikbaar gaan wees.  Teelvoël eienaars sal noodwendig alle moontlike voorsorg moet tref om optimaal produktief te wees en  maksimum aantal lewensvatbare kuikens te produseer.    Dit is die enigste wyse om winsgewende dagoud kuikenproduksie te handhaaf.

 

MOET KUIKENS GEPRODUSEER WORD INDIEN LAER PRYSE PER KUIKEN VERKRY GAAN WORD?

Of die volstruis nou produseer of nie, dit moet eet en met die Klein Karoo se beperkte bronne en beskikbare roumateriale moet grondstowwe grootliks aangekoop word. Die koste  per ton tussen ‘n swak onderhouds voer (net lusern en mielies) vir oorlewing en ‘n kwaliteit teelvoer rantsoen  vir optimale produksie is in die orde van R700 per ton ekstra.  Met ‘n daaglikse inname van 2.5 kg/voël/dag sal die kwaliteit teelvoer rantsoen die  produsent, R53 per voël per maand ekstra kos teenoor die onderhoudsvoer wat geen of swak produksie tot gevolg sal hê.

Met ‘n 7 tot 10 mannetjie wyfie verhouding sal dit gevolglik die teelvoël eienaar maandeliks R90 per produktiewe eenheid ekstra kos om beter na die voëls te kyk as om hulle net te laat oorleef.  Indien die teel eenheid net een kuiken per maand ekstra gee, sal dit verseker die teelvoël se addisionele inset koste tot kwaliteit voer regverdig tesame met die inset kostes van bestuur, veterinêre versorging en uitbroei.

Die gevolgliktrekking is eenvoudig,   met die nuutste grondstof kostes in Suid Afrika kan die teelvoël eienaar NIE bekostig om NIE volstruise te teel nie.  Hoe meer en beter, hoe laer sal die netto inset koste per kuiken geproduseer wees en begin die proses reeds deur behoorlike hantering en versorging van teelvoëls in die rusperiode.

  

NOODSAAKLIKHEID VAN DIE RUSPERIODE?

Met die rusperiode word teelvoëls deur die manipulasie van voeding, gedwing om produksie vir drie tot vier maande te staak.  Dit bied die teelvoël die geleentheid om verslete reserwes te herstel en ook die produsent die kans om met die voëls te werk sonder dat produksie benaddeel word.  Dit sluit bestuursaksies in soos dossering teen parasiete, behandeling teen veer- en bosluise, entings en vere-oes.  Produsente behoort ook die rusperiode te gebruik om onproduktiewe en beseerde individue te identifiseer.

Die seisoenale patroon van produksie word hoofsaaklik bepaal deur omgewingstoestande en die lengte van daglig, maar kan ook grootliks deur voedingspraktyke beïnvloed word. Deur teelvoëls in die rusperiode verdunde dog gebalansseerde voer te gee, gevolg deur verbeterde voedingsstatus met die aanvang van die volgende teelseisoen, word op dié wyse gunstige omstandighede vir reproduksie geskep.  Die volstruis is verseker natuur sensitief en met korrekte rusperiode benadering kan die natuur grootliks aangevul word om die seisoenale partroon van produksie te manupileer.

  

TIPIESE SIMPTOME VAN VERKEERDE RUSPERIODE BEHANDELING 

Die 2008 teelseisoen is aanvanklik  gekenmerk deur  lae eierproduksie met hoë onvrugbaarheid wat baie geleidelik verbeter het later in die seisoen.  Die stadige begin is vir die teelvoël eienaar ‘n onnodige en duur onproduktiewe periode weens die lae kuikenopbrengs wat ook vir kuikengrootmakers die lewe moeilik maak om ekonomies die kleiner getalle kuikens te kom haal en groot te maak.

Die waarskynlike oorsaak kan aangespreek word deur tekorte waarmee die teelvoëls die nuwe seisoen ingegaan het.   Dit is grootliks veroorsaak deur afskeep met marginale lae waarde voedingspraktyke  van teelvoëls in die rusperiode waar noodsaaklike komponente soos spoorelemente, fosfate, aminosure en vitamienes nie aangevul is nie.  Onthou, na ‘n voltooide  teelseisoen is voëls uitgeput en indien jy nie in die rusperiode dit aanvul nie, sal die voëls in die uitgeputte toestand bly en so die nuwe seisoen met die tekorte begin.

Namate die teelvoëls weer gebalanseerde teelvoere begin ontvang, word die tekorte geleidelik oor ‘n periode aangevul sodat verbeterde resultate  na sowat 8 tot 12 weke  gesien word.

  

TIPIESE WANPRAKTYKE IN RUSPERIODE WAT POTENSIËLE REPRODUKSIE VERTRAAG?

Onder nulbeweiding voerkraal omstandighede, sal die teelvoël daagliks 2,2 tot 2,5 kg voer per dag wil inneem.  Gevolglik 230 kg voerinset gedurende die  onproduktiewe rusperiode van ongeveer drie maande wat baie produsente dwing tot afgeskeepte lae koste praktyke:

 

MUF VOER

Die mees algemene fout is die gebruik van  swam besmette (muf) lae-graadse hooi.  Muf hou fatale risikos in vir  vrugbaarheid en gesondheid.  Swamme beskadig die lewer, die belangrikste oorgaan wat beskibaarheid van mineraal funksies moet beheer.  Gevolglik word die werking van die lewer onderdruk en sal die volstruis gevolglik sodanig tekorte ontwikkel afgesien van die gesondheidsrisiko wat ook gesien word.

 

WEGLAAT VAN NOODSAAKLIKE VITAMIEN/SPOORELEMENT/ FOSFAAT/ AMINOSUUR KONSENTRAAT AANVULLING

Die gebruik van noodsaaklike vitamienes, spoorelemente, aminosure en fosfaat is absoluut noodsaaklik.  So baie produsente ontsien die koste wat in die orde van R 280 per maand bedrae vir ‘n afrond/rusperiode konsentraat.  Die gebruik van hierdie absolute noodsaaklike aanvullings sal die produsent R64 per voël oor die drie maande rusperiode uitwerk, ‘n klein belegging wat nie eers  30% van die waarde van EEN EKSTRA kuiken uitwerk nie.  Baie boere is  so ingestel op koste bespaar en sien nie die breër prentjie nie deurdat die  klein inset kostes van vitamien/Spoorelement/fosfaat  konsentraat aanvulling hulle besigheid net kan bevoordeel.

 

VERVETTING VAN TEELVOËLS DEUR ONGEBALANSSEERDE VOEDING

Die idée is nooit om teelvoëls te vervet in die rusperiode nie, maar net om optimale hoeveelhede van noodsaaklike nutriënte te verskaf vir die herstel van die liggaam na voorafgaande teelseisoen.

Baie boere probeer kondisie bou op teelvoëls in rusperiode .  Die idee is eerder om oorvet voëls versigtig te verskraal sodat teelvoëls skraal die nuwe teelseisoen sal ingaan.  Resultate het bewys dat aanvangs van produksie en vrugbaarheid aansienlik beter is in nuwe seisoen met skraler teelvoëls.

 VEREPLUK

Alhoewel die oes van vere aanloklik klink om kostes te spaar moet dit NOOIT net voor nuwe teelseisoen hanteer word nie.  Met vere oeste word aansienlik verhoogde voeding vereis.  Drie tot vier maande rusperiode verskaf die geleentheid vir die voël om nuwe veergroei te stimuleer indien dit behoortlike aanvulling kry en gevolglik moet vereoes aan die begin van die rusperiode geskied indien enigsins.

Indien vere net voor teelseisoen geoes word, sal die geïnduseerde tekorte uit die teelvoer aangevul word.  Gevolglik sal die voëls eers tekorte van vere aanvul en staan produksie tweede in die ry.  Produksie begin eers in aanvang neem sodra die tekorte uitgewis is.  Die geld opbrengs van gemiddelde teelvoël vere is baie minder as wat verloor word wanneer kuikenproduksie gestrem word.  So, die som is eenvoudig, vir die meeste produsente is vere oeste net voor die teelseisoen net eenvoudig nie ekonomies sinvol nie!

  

NUUTSTE RUSPERIODE VOEDINGSPRAKTYKE VIR 2009

Daar is nog ongeveer twee maande oor alvorens voëls weer gereed gemaak word vir die nuwe teelseisoen.

Indien die voëls  nog nie behoorlike voedings aandag gekry het nie, is dit nou uiters belangrik dat dit wel gebeur.

Chroniese tekort aan veral FOSFAAT is vanjaar by verskeie plase geidentifiseer waar daar probleme met onproduktiewiteit was volgens Dr Boto Gansevoort.  Fosfaat opnames neem normaalweg 2 maande vir optimale vlakke van regstelling en is gebruik van spoorelement/fosfaat volstruislekke noodsaaklikheid waar voëls ongebalansseerde lusern/mielie voere ontvang.

 

TIPIESE RUSPERIODE VOEROPSIES VIR VOERKRAAL OMSTANDIGHEDE.

Kontrolleer voëls se kondisie nagelang van  omgewingstemperatuur, gesondsheidstoestand en grondstof kwaliteite.  Teevoëls moet verseker nie VERVET in die rusperiode nie, eerder matig en versigting verskraal.

Verskeie faktore  kan voerinname beinvloed maar vrywillige inname sal in die orde van 2.5 kg/voël/dag wees en een van die volgende drie basiese tuismeng voeropsies kan oorweeg word:

   

OPSIE 1

OPSIE 2

OPSIE 3

Mielies

100kg (2 sak, 50kg)

 

 

Koringsemels, 15% prot

 

350kg (10 sak, 35kg)

105kg (3 sak, 35kg)

Lusern 16% prot

880kg (meet)

620kg (meet)

875kg (meet)

Camelus Afrond Konsentraat

20kg (1 sak, 20kg)

20kg (1 sak, 20kg)

20kg (1 sak, 20kg)

Voerkalk 36% Ca

 

10kg (meet)

 

Verbruiker aanvaar verantwoordelikheid vir grondstowwe, vermenging, storing en gebruik

 Vir die kliënte wat volvoer aankoop, die Ekono Onderhoudsvoer van Nova  sal gebruik kan word wat soortgelyke voedingswaarde het vir teelvoëls in die rusperiode.

  

TIPIESE RUSPERIODE ONDER WEIDING OMSTANDIGHEDE

 Indien weidings beskikbaar is, sal meeste van die droë materiaal en energie-behoeftes vanaf weidings bevredig kan word.   Samestelling van aanvulling in die rusperiode sal bepaal word deur die soort en gehalte weiding en omgewingstoestande.

Die aanvulling van noodsaaklike spoorelemente, fosfaat, aminosure en vitamiene moet egter nog steeds geskied.  Dit kan gedoen kan word deur ‘n weidings-kragvoer wat beperkend gevoer word teen 700g tot 1 kg per voël per dag nagelang van tipe weiding en omgewingstoestande.

 

SO ‘N TIPIESE WEIDINGSKRAGVOER VIR TEELVOëLS KAN AS VOLG GEBRUIK WORD:

Weidingskragvoer  vir 1 kg aanvulling op lusern weidings

 Samestelling per 1000 kg mengsel

Mielies

100 kg

2 sak, 50 kg

Lusern 16 % prot

658 kg

 

Camelus Afrond konsentraat

40 kg

2 sakkies, 20 kg

Verbruiker aanvaar verantwoordelikheid vir grondstowwe, vermenging, storing en gebruik

 Wyse van vitamien, fosfaat, aminosuur en spoorelementaanvullings in rusperiode

 Indien die produsent nie gebruik maak van volledige gebalansseerde aangekoopte voere nie sal die gebruik van voerkonsentrate met tuismeng sekerlik die mees koste-effektiewe wyse wees  waarmee hierdie noodsaaklike voedingstowwe aangevul kan word soos in die voorbeelde gegee. 

 

Waarom?

-           Volstruiskonsentrate  is die stabielste vorm van aanvulling teenoor wateraanvullings             wat na 2 tot 3 ure begin afbreek.  Verder word interaksies tussen minerale in die     voer           en water ook dikwels aangetref.

 -       Volstruiskonsentrate voorsien deurgaans voldoende en gebalanseeerde hoeveelhede in die regte verhouding aan voëls.  Inspuitbare of dosserings tipe produkte voorsien dikwels enkele elemente in oormaat wat ook hantering vereis met verhoogde risiko van beserings. 

-        Volstruiskonsentrate is veilig en met korrekte gebruik hou dit geen gesondheid risiko soos wat soms gesien word met ongeregistreerde inspuitbare produkte wat vir          herkouers ontwikkel is nie.  Die produkte veroorsaak dikwels ernstige weefsel skade         en verdere moontlike riskos van onnodige beserings weens hantering.

OPSOMMEND

 Die rusperiode is die eerste skakel in die ketting vir die belegging tot sukses van dagoud kuikenproduksie  en met slegs twee maande oor voor die volgende kuikenproduksie seisoen, sal teelvoelprodusente nou ‘n besluit moet neem. 

CAMELUS poog met die skrywe om boere te motiveer om nou reeds hulle teelvoëls reg voor te berei  vir die komende teelseisoen wat verseker nuwe uitdagings aan beide kuiken leweransier en grootmaker gaan bied.

 Teelvoer opsies onder verskillende omstandighede sal bespreek word in ‘n skrywe wat beplan word teen einde Mei 2009.

 Camelus produkte is deurgaans beskikbaar by meeste koöperatiewe handelstakke en staan dit u vry om spesifieke rantsoen pakette by ons te bekom volgens beskikbare roumateriale, kostes en produsent behoeftes.

Opgestel deur

Fanus Cilliers ( PhD Agric., Pr. Nat. Sci.)

Camelus

Tel 044 272 2413

Sel 083 261 8760

 

Email : fanus.cilliers@camelus.co.za

 

 

 

← Older Post Newer Post →